Bloemhof

Biografie

François Bloemhof
François Bloemhof

François Bloemhof het in 1991 in die eerste De Kat-wedstryd die prys vir beste debuutroman gewen met Die nag het net een oog, die eerste Gotiese riller in Afrikaans. Die aanhaling uit Dracula voorin die boek, "I'm glad you found your way in here, for I'm sure there is much that will interest you", sou profeties wees, want deur die jare wat volg sou daar inderdaad baie wees wat verkennende lesers sou interesseer.

En verras. Want na talle boeke (tel hulle maar hier) en pryse (óf deur beoordelaarspanele toegeken sonder dat hulle geweet het wie die skrywer is, óf deur lesers self) is die verrassendste ding omtrent Bloemhof se skryfwerk dalk dat hy dit steeds regkry om te verras. En jou terselfdertyd gee wat jy gehoop het om te vind. Wat lesers en kritici aanvanklik tereg kon gedink het tot vervelens toe sou volg — bloed en derms — het toe nié, of indien wel, op tye wanneer jy dit nie verwag het nie. Die skrywer het net so 'n groot belangstelling in innerlike spanning, indien nie meer nie: dít is wat jou bybly, glo hy.

Die skrywery het in graad nege begin toe sy Engels-onderwyseres hom 97% gegee het vir 'n kortverhaal. Toe kom die groot vasbyt, want hy het jare lank (grusame) Engelse kortverhale vir tydskrifte gestuur en hulle kon dit nie gou genoeg terugstuur nie ... tot hy vir die grap 'n lighartige Afrikaanse verhaal vir Huisgenoot geskryf het en sy vriende se name daarin gebruik het. Daarna het hy in tydskrifte sy talent geslyp tot hy gereed was vir sy eerste roman. Dit is onmoontlik om tred te hou van sy tydskrifbydraes ("iets soos driehonderd") vir al wat 'n publikasie is, van Insig en De Kat tot Vrouekeur, en daar het ook al talle van sy verhale in versamelbundels verskyn. Hy was ook twee jaar lank verhaleredakteur by Sarie. En is deeltyds kopieskrywer, vertaler en redigeerder.

Hy sê hy skrik steeds elke keer as hy iemand met een van sy boeke in die hand sien — of as iemand hom in die openbaar herken, omdat hy nie vir homself herkenbaar voel van foto's af nie. Dat daar M-verhandelings oor sy werk geskryf is, is ook vir hom 'n vreemde ervaring aangesien hy bloot skryf vir die lekker. Iets wat hý sou wou lees.

Veel van sy persoonlike lewe wil hy nie verklap nie, net soos hy terughoudend is in onderhoude. Hy glo as die publiek te veel van 'n skrywer weet, ontneem dit sy boeke van die geleentheid om op hul eie bene te staan.

Maar hier is inligting wat beskikbaar is: hy het meer as 2 000 DVD's en is as totale fliekvlooi ook rolprentresensent vir Die Burger, hy het nog meer CD's, hy wens hy het tyd gehad om al die boeke op sy rak te lees, en verder is dit 'n voltydse taak om na sy katte om te sien ...